Verhuisd



Let op: Neder-L is verhuisd naar www.neerlandistiek.nl

donderdag 18 juni 2015

UV-departement sê dís wat taalbeleid moet doen

Aan universiteiten in Zuid-Afrika woedt momenteel een fel debat over de (on)wenselijkheid om al het universitaire onderwijs alleen in het Engels te houden. Het onderstaande artikel is een voorbeeld van een duidelijke stellingname in dit debat. (Redactie Neder-L)

Door leden van het departement Afrikaans en Nederlands (enz.) van de Universiteit van die Vrystaat

Die departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) wil hom verbind tot harde, doelgerigte werk aan die uitvoering van die ’n meertaligheidsbeleid wat alle UV-studente akademies sal bemagtig, lui ’n meningstuk wat die departement as deel van die debat oor die toekomstige taalbeleid aan die UV geskryf het.


Die taalbeleid van die Universiteit van die Vrystaat (UV) moet tussen die eise van die politiek en die geldmag deur na die werklike akademiese bemagtiging van sy studente gestuur word.

Die departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans aan die UV reageer op die heftige debat oor taal aan dié universiteit.

In ’n onlangse onderhoud (Volksblad, 12 Mei 2015) sê Naspers se voorsitter, Koos Bekker, universiteite se dae is getel, omdat hulle studente nie aan die voorpunt van die tegnologie hou nie. Ongeveer dieselfde tyd (4 Mei 2015) maak die rektor van die UV, professor Jonathan Jansen, in sy weeklikse Maandagbulletin bekend die meeste van die studente aan die UV meen onderrig in sowel Afrikaans as Engels benadeel studente én dosente.

Die knyptang van die eise van groot korporasies en die ideologie waarin die UV hom bevind, is nie ’n nuwe een nie en dit is hoog tyd dat universiteitsowerhede baie goed hieroor besin. ’n Kapitulering aan enigeen van die eise kan die hoofdoelwit van ’n universiteit, naamlik om sy studente intellektueel te bemagtig, in die wiele ry. ’n Universiteit moet nie, soos Bekker voorstel, net die oordrag van kennis ten doel hê nie, maar dit moet studente ook krities en kreatief leer dink en hiervoor het ’n mens taal nodig. Die vraag is: Moet die taal per definisie Engels en net Engels wees? Ook hier in die hartjie van Suid-Afrika?

Die departement se antwoord is ’n onomwonde nee.

Indië

Bekker verwys na Indië as ’n ontwikkelende land wat dit regkry om internasionaal naam te maak. Hy sê dit is omdat die jong Indiërs hardwerkender, optimistieser en ambisieuser as hul Europese eweknieë is.

Die departement meen dit is ook omdat Indië die aangeleentheid van onderrigtale aan skole en universiteite reg hanteer. Indië kry dit reg om studente te bemagtig om aan die wêreldwye ekonomie deel te neem en hy doen dit deur plaaslike tale, sowel as Engels, te benut. Leerlinge word van vroeg af in hul moedertaal sowel as Engels onderrig – die moedertaal, omdat dit die taal is waarin optimaal geleer word; Engels, omdat dit die taal is waarin maatskaplike en opwaartse mobiliteit en wêreldwye ekonomiese interaksie geskied.

Twee dinge is deurslaggewend: moedertaalonderrig en goeie Engelse onderrig reeds op skool. Die moedertaal is onontbeerlik vir die intellektuele, kognitiewe en kreatiewe ontwikkeling van elke student; Engels moet vroeg reeds behoorlik aangeleer word sodat die studente eindelik wêreldwyd kan meeding.

Moedertaalonderrig, met daarby Engels deur goeie onderwysers, is in der waarheid dit waaraan die meeste Afrikaanse Kovsies blootgestel is en dit is die stelsel wat die meeste swart studente moet ontbeer. Die wanbalans is te wyte aan swak skoolonderrig, net omdat daar nie genoeg onderwysers met voldoende taalvaardighede is nie; nie in hul moedertaal nie en ook nie in Engels nie. Alle onderrig ly daaronder. Vakke soos wiskunde en wetenskap word in Engels aangebied deur onderwysers wie se Engels nie goed is nie en aan leerlinge wie se Engels nog gebrekkiger is. Die uiteinde is eksamenpunte is nooit ’n weerspieëling van leerlinge se begrip van die vakinhoud nie, maar altyd net van hul begrip van Engels.

Goeie nuus

Die goeie nuus is die departement van basiese onderwys (DBO) het begin om iets aan die omstandighede te doen (minister Angie Motshekga se begrotingsrede op 6 Mei 2015). Die “Incremental Introduction of African Languages (IIAL)” is ’n projek wat dit ten doel het om teen die einde van vanjaar in 3 558 meer skole landwyd ’n verpligte inheemse Afrikataal ingestel te hê. Die slegte nuus is dit lyk asof tersiêre instansies onder korporatiewe en politieke druk wegskram van ’n projek wat volgens alle navorsing pedagogiese voordele inhou.

Die Rhodes-universiteit het gewys daar is ’n alternatief. Die universiteit het besluit indien hy die meerderheid van sy studente se belange wil dien, sal Xhosa tot ’n universitêre onderrigtaal uitgebou moet word. Die universiteit het in 2008 met moedertaalkursusse in Xhosa begin en deesdae kan ’n mens Xhosa-kursusse in joernalistiek, die regte, opvoedkunde en farmakologie volg. Dit kan met Suid-Sotho op die Bloemfontein-kampusse gebeur.


Die argument is dikwels Suid-Sotho, die grootste huistaal in die Vrystaat, is nie tot ’n standaardtaal ontwikkel nie en dus nie geskik vir onderrig nie. Dit is ’n ideologiese vooroordeel wat in die pad van wesenlike hervorming aan die UV staan. Die Rhodes-universiteit het ’n drietaalbeleid – Afrikaans, Engels en Xhosa – en die UV kan dit ook op die Bloemfontein-kampusse doen met Suid-Sotho in die plek van Xhosa. Rhodes het ook, in die proses om sy taalbeleid ingestel te kry, agtergekom wat dit verg om dit te laat slaag. Die hele universiteitsgemeenskap moet betrek word deur ’n proses van betekenisvolle betrokkenheid (meaningful engagement). Dit is tot so ’n proses waartoe die departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans hom sal wil verbind, naamlik harde, doelgerigte werk aan die uitvoering van ’n meertaligheidsbeleid wat alle UV-studente akademies sal bemagtig.

Geen opmerkingen:

Een reactie plaatsen

Opmerking: alleen leden van deze blog kunnen een reactie plaatsen.