Verhuisd



Let op: Neder-L is verhuisd naar www.neerlandistiek.nl

dinsdag 20 mei 2014

Voorpublicatie: Die Roebaijat van Omar Khajjam

Onlangs verscheen bij Protea Boekhuis de nieuwe vertaling van Die roebaijat van Omar Khajjam. 50 kwatryne door de Afrikaanse dichter Daniel Hugo. ls voorpublicatie verschijnt in Neder-L de inleiding bij deze vertaling.



Die roebaijat is die bes verkoopte gedig van alle tye. Sedert dit in 1859 vir die eerste keer gepubliseer is, het daar al meer as 650 verskillende uitgawes en ’n groot aantal herdrukke die lig gesien. Die helfte van hierdie uitgawes is geïllustreer deur 150 verskillende kunstenaars, en meer as ’n honderd komponiste het die Die roebaijat getoonset. Volgens die redakteur van ’n redelik onlangse uitgawe van dié gewilde gedig, Tony Briggs (2009: xxiv), kan ’n mens praat van ’n Khajjam-industrie of selfs -kultus. Die Khajjam-manie was veral lewenskragtig in die eerste halfeeu ná die verskyning van die gedig.

Die trefkrag van die Die roebaijat (die Persiese meervoudsvorm vir “kwatryn”; die enkelvoudsvorm is roebai) kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die vertaler Edward FitzGerald (1809-1883) se digterlike genialiteit. Sy vertaling van die Khajjam-kwatryne is in ’n groot mate eerder herskrywings as getroue weergawes van die oorspronklike gedigte. FitzGerald se herskrywing behels ook ’n rangskikking van die kwatryne tot ’n poëtiese eenheid, sodat ’n mens inderdaad van die Die roebaijat as ’n selfstandige gedig kan praat. Khajjam se kwatryne daarenteen is in ’n chaotiese toestand oorgelewer, sonder enige tematiese samehang. Die eerste uitgawe van die Die roebaijat het bestaan uit 75 kwatryne. FitzGerald het tot aan die einde van sy lewe aan die gedig bly werk deur nuwe variante van bestaande kwatryne te maak (nie altyd verbeterings nie!) en deur nuwes by te skryf. Dit het tot gevolg gehad dat die verskillende uitgawes wat in sy leeftyd verskyn het, ’n wisselende aantal kwatryne bevat het.


Omar Khajjam was ’n Persiese sterrekundige, wiskundige, filosoof, digter en wyndrinker. Hy is in 1048 in Naisjapoer gebore en is in 1131 daar begrawe. Die naam Khajjam beteken “tentmaker”. Edward FitzGerald haal in sy voorwoord tot die Die roebaijat ’n kwatryn aan waarin Omar Khajjam homself ’n bietjie spottend voorstel. FitzGerald se vertaling is klaarblyklik letterlik, daarom rym dit nie:

            Khayyám, who stitched the tents of science,
            Has fallen in grief’s furnace and been suddenly burned;
            The shears of fate have cut the tent ropes of his life,
            And the broker of hope has sold him for nothing!

Omar Khajjam is in die Islamitiese wêreld veral bekend as die sameroeper van ’n groep wetenskaplikes wat in die tyd van die heerser Malik Sjah die kalender hervorm het. Hy verwys self in ’n kwatryn na hierdie arbeid van hom:

                        Ah, but my Computations, People say,
                        Reduced the Year to better reckoning? – Nay,
                        ‘Twas only striking from the Calendar
                        Unborn Tomorrow, and dead Yesterday.

Hier is my vertaling:

                        Met sterrekunde het ek getorring
                        aan die kalender en dit hervorm.
                        Die essensie is: Vergeet van gister
                        én van môre – vandag is die norm.

In die Weste is Khajjam natuurlik veel bekender as digter, vanweë Edward FitzGerald se Engelse weergawe van sy kwatryne en die vertalings daarvan in meer as sewentig ander tale.

In Afrikaans is daar nie minder nie as ses vertalings van die Die roebaijat. C.J. Langenhoven s’n van 1923 is die oudste. (Dit is interessant dat die hedonistiese Pers se wyshede in Afrikaans vertaal is voor Die Bybel, wat eers in 1933 die lig gesien het.) Ná Langenhoven se vertaling het 16 kwatryne vertaal deur C. Louis Leipoldt onder die titel “Verse van die tentmaker, Omar, die Persiese digter” in sy postume bundel Geseënde skaduwees (1949) verskyn. Die eerste “vollengte vertaling” sedert dié van Langenhoven is Herman Charles Bosman s’n wat naam- en datumloos deur Colin Reed-McDonald in Kaapstad uitgegee is. Dan is daar Abr. H. Jonker se bewerking wat in 1950 gepubliseer is as Die onherwinbare hede. Hy maak gebruik van sowel FitzGerald as van die Duitse vertaling van Friedrich von Bodenstedt van 1881. D.B. van Soelen se vertaling plus sy Christelike antwoord, ook in kwatrynvorm, op Khajjam / FitzGerald verskyn in 1965. En ten slotte is daar Sebastiaan Basson s’n van 1994/1997, geïllustreer deur die vertaler. (Basson noem in sy inleiding, benewens Langenhoven en Jonker se vertalings, ook een deur ’n sekere Neser. Ek kon dit nie opspoor nie.) 

In 1859 het benewens Edward FitzGerald se meevoerende Khajjam-bewerkings ook Charles Darwin se magistrale On the Origin of Species by Natural Selection verskyn. Al is die een wetenskaplik van aard en die ander literêr-filosofies, het dié twee werke die lewensuitkyk van miljoene mense beïnvloed. Garry Garrard (2007: 82) wys op ’n ooreenkoms tussen die ontvangs van dié twee boeke. Albei is aangegryp deur liberaaldenkendes wat in opstand was teen die benouende Victoriaanse sedes van hul tyd: “Both were welcomed by those who sought an alternative to claustrophobic religious teaching.”

Wat was dan so uitdagend aan die Engelse weergawe van ’n Moslem-geleerde wat 900 jaar gelede geleef het? Sy epikuristiese lewenshouding van eet, drink en bedryf die liefde want môre sterf ons, was onaanvaarbaar vir die streng Christelike tyd waarin FitzGerald geleef het. En selfs sestig jaar later was ook Afrikaanse lesers en skrywers nog ongemaklik daarmee. Die bekendste kwatryn waaruit Khajjam se hedonistiese filosofie blyk, is die volgende een:

                        Here with a Loaf of Bread beneath the Bough,
                        A Flask of Wine, a Book of Verse – and Thou
                        Beside me singing in the Wilderness –
                        And Wilderness is Paradise enow.

Langenhoven se weergawe lyk só:

                        ’n Snytjie Brood hier waar die skaad’wees sprei,
                        ’n Flessie Wyn, en ’n Gedig – en Jy
                        Hier by my om te sing in die Woestyn –
                        En die Woestyn is Paradys vir my.

Dit is interessant dat Langenhoven vir Omar en sy geliefde net ’n karige “snytjie” brood en ’n sobere “flessie” wyn gun! Die vrygesel C. Louis Leipoldt weer maak van die “Book of Verse” ’n “goeie boek” en van die geliefde “Thou” ’n “ou vrind”. Die gevolg is dat die poësie en die lied verdwyn:

                        Met jou, ou vrind, alleen in die woestyn,
                        Met jou, ’n goeie boek, ’n drankie wyn,
                        Dan word die woesteny ’n Paradys
                        Van lewenskleur en lewensonneskyn.

My vertaling lyk só:

                        Met ’n verseboek in die skaduwee,
                        ’n bottel wyn, ’n brood en jy daarmee
                        saam om vir my te sing in die woestyn –
                        en woestyn word ’n paradys vir twee.

Maar die Die roebaijat gaan veel verder as wat hierdie onskuldige kwatryn laat blyk. FitzGerald daag selfs die uitverkiesingsleer uit onder die dekmantel van die rebelse Pers:

                        O thou, who didst with Pitfall and with Gin
                        Beset the Road I was to wander in,
                        Thou wilt not with Predestination round
                        Enmesh me, and impute my Fall to Sin?

En in Afrikaans:

                        U wat met vanggat en met slinkse strik
                        my kort-kort op die lewenspad verskrik,
                        sal U my val aan die sonde wyt
                        en boonop sê dis lank reeds voorbeskik?

(Terloops, die rymwoord “gin” in die eerste reël van die Engelse kwatryn beteken “valstrik” of “wip”, en nie “jenewer” soos wat Langenhoven klaarblyklik gedink het nie. Hy vertaal dit soos volg: “U het met Valstrik en met Drank …”)

Die virtuositeit van Edward FitzGerald se vertalings het gesorg dat ook mense wat op grond van hul geloofsoortuigings nie met die boodskap saamgestem het nie, dit tog met ’n skuldige gewete en al as ’n literêre kleinood bly koester het. C. J. Langenhoven (1923: 10-11) sê byvoorbeeld hierdie “soetvloeiende leer van ongeloof en wanhoopswellus” het ’n teenoorgestelde uitwerking op die leser: “Dit doen ’n wonderlike beroep op ’n mens omdat dit … so ’n getroue spieël is van die drifte en drange van ons liggaam en van die vertwyfelde versugtinge van ons gees onder die verborgenhede van die plan van ons bestaan. Maar dan juis omdat dit hierdie gevoelens en aandoenings en begeertes so nakend in die daglig stel en tot so ’n uiterste oordryf, bevat dit al gaande sy eie reductio ad absurdum. Daar kom in ons op ’n geweldige terugslag; ons God-bewuste binneste siel verset hom. Nee, die Heelal het ’n ander doel! Die Rubaiyat moet al baie godloënaars en wellustelinge tot nadenke gebring het.” Dié merkwaardige stuk rasionalisasie verskaf aan Langenhoven die regverdiging om Khajjam via FitzGerald in Afrikaans oor te sit.

D.B. van Soelen gaan in sy vertaling selfs ’n stap verder. Hy noem sy boek Antwoord aan Omar Khayyám. Eers gee hy ’n vertaling en dan skryf hy ’n Christelike antwoord op elkeen. In sy voorwoord vertel Van Soelen dat hy as skoolkind al deur die skoonheid van die Roebaijat bekoor is, maar dat daar ’n leemte by hom gelaat is deur Khajjam se troostelose filosofie. By hom word die “Book of Verse” daarom die Bybel, die minnares die getroue (getroude) vrou, en die brood en wyn die Nagmaal:

                        En jy wat met my vir die Toekoms bou
                        Deur Hitte van die Dag en Winterkou –
                        Ons het ’n Boek wat elke skamele Maal
                        ’n Fees maak, dat ons ewig Bruilof hou.

Die Persiese kwatryn het ’n baie opvallende eindrymskema: aaba. Die derde versreël is dus rymloos en enjambeer dikwels – dit wil sê die reël stu sintakties voort tot in die slotreël. In sy voorwoord beskryf FitzGerald die struktuur van die roebai soos volg: “The original Rubáiyát … are independent Stanzas, consisting each of four Lines of equal, though varied, Prosody; sometimes all rhyming, but oftener (as here attempted) the third line a blank. Somewhat as in the Greek Alcaic, where the penultimate line seems to lift and suspend the Wave that falls over in the last.” Die beeld van die brander wat opbou in die derde reël en dan in die vierde reël breek, stel die versbeweging treffend visueel voor. D.J. Opperman (1959: 88) gebruik in sy opstel “Oor die kwatryn” weer die beeld van ’n hamer wat ’n spyker inslaan: “’n Mens kry onmiddellik met die inset reeds die rymgerigtheid deur die oorheersende rymklank (aa) wat die verwagting wek, maar voordat hierdie klank weer voorkom, bring die rymlose derde reël (b) afwisseling en verhoogde spanning; wanneer die verwagte rymklank dan aan die end van die vierde reël wel kom, wek die laaste woord in die gedig die gevoel van volkome afgeslotenheid. Die eerste twee rymwoorde is ’n hamer wat met mik- en korrelbewegings liggies ’n spyker in posisie tik en die spiere onder beheer kry, dan in plaas dat die hamer weer op die spyker neerkom, lig dit met die rymlose derde reël omhoog om met die laaste rymwoord in een fors hou op die spyker se kop terug te keer.”

Hoeveel die vierreëlige versvorm aan trefkrag inboet wanneer daar afgewyk word van die aaba-skema, word geïllustreer deur Sebastiaan Basson se vertaling van FitzGerald se “Book of Verse”-kwatryn:

                        Hier met ’n vars Brood in die Skadu’s,
                        ’n Bottel Wyn, ’n Gedigteboek en U,
                        sing ons twee saam in die Wildernis
                        en die Wildernis word Edentuin hernu.

In enkele gevalle kon ek nie die aaba-rympatroon en die tienlettergrepige versreëllengte handhaaf nie; hier en daar moes ek my berus by ’n halfrym en langer of korter reëls – hoewel die rymende reëls altyd dieselfde aantal lettergrepe het, naamlik 10 of 12.

Die vyftig vertaalde kwatryne wat hier gebundel word, is gekies op grond van hul vertaalbaarheid en trefkrag. Die oorspronklike uitgawes van die Die roebaijat bevat heelwat herhaling van dieselfde idees, sodat sommige kwatryne uitgelaat kan word sonder om die geheelindruk te versteur. Edward FitzGerald het ’n eenheid tot stand gebring met sy rangskikking van die kwatryne, maar die afgeslote aaba-versstruktuur veroorsaak tog dat die meeste kwatryne as gedigte in eie reg gelees kan word. Die titel van die versameling is per slot van rekening Roebaijat oftewel Kwatryne.

In 1976 het ek as as vierdejaarstudent op Stellenbosch vir die eerste keer met Omar Khajjam kennis gemaak deur middel van die Nederlandse digter J.H. Leopold se bewerkings. Toe ek in ’n Eikestadse boekwinkel ’n Amerikaanse uitgawe (met dekadente illustrasies deur Edmund J. Sullivan) van die Die roebaijat raakloop, het ek dit dadelik gekoop. FitzGerald se kwatryne het my so aangegryp dat ek daar en dan my eerste vertaalpogings aangewend het. Omar Khajjam se versvorm en filosofie het my klaarblyklik nooit laat staan nie – vandaar hierdie bundel vertalings amper veertig jaar later! Op die skutblad van daardie Amerikaanse uitgawe staan die volgende kwatryn in my studentikose handskrif:

In die tent van Omar Khajjam
            het ek rooi wyn gedrink en saam
            gesing – maar as die Dood die toue sny
           waar gaan ons dan die tent opslaan?

Bronne

Basson, Sebastiaan. 1997. Rubáiyát van Omar Khayyám. Rayton: Woordewinkel Uitgewers.
Briggs, Tony (ed.). 2009. Rubaiyat of Omar Khayyam – Bird Parliament, translated by Edward FitzGerald. London: Phoenix.
Garrard, Gary. 2007. A Book of Verse: The Biography of the “Rubaiyat of Omar Khayyam”. Stroud: Sutton Publishing.
Karlin, Daniel (ed.). 2009. Edward FitzGerald: Rubáiyát of Omar Khayyám The Astronomer-Poet of Persia. Oxford: Oxford University Press.
Langenhoven, C.J. 1923. Die Rubáiyát van Omar Khayyám. Kaapstad: Nasionale Pers Beperk.
Leipoldt, C. Louis. 1980. Versamelde gedigte, versorg deur J.C. Kannemeyer. Kaapstad: Tafelberg.
Opperman, D.J. 1959. Wiggelstok. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Bpk.
Van Soelen, D.B. 1965. Antwoord aan Omar Khayyám. Pretoria: Unie Boekhandel.            

Uit: Die roebaijat van Omar Khajjam. 50 kwatryne vertaal deur Daniel Hugo, Protea Boekhuis, Pretoria, 2014, 80 pp., ISBN (gedrukte boek): 978-1-4853-0086-1, ISBN (e-boek): 978-1-4853-123-3.

Geen opmerkingen:

Een reactie plaatsen

Opmerking: alleen leden van deze blog kunnen een reactie plaatsen.