Verhuisd



Let op: Neder-L is verhuisd naar www.neerlandistiek.nl

dinsdag 24 september 2013

Digitalisering dra Afrikaans die wêreld in: die DBAT

Door Wannie Carstens

In Afrikaanse taalkundige geledere word daar tans hard gewerk aan die konseptualisering van ʼn groot nuwe digitaliseringsprojek  wat Afrikaans letterlik vlerke sal gee. Meer oor hierdie projek ʼn volgende keer.

Ek berig vandag oor een van die subprojekte wat mettertyd deel van hierdie groot projek sal uitmaak. Ek verwys hiermee na die Digitale Biblioteek van die Afrikaanse Taalkunde – kortweg bekend as die DBAT.

Die DBAT-projek staan tans steeds onder my beheer, maar die intrek van jonger personeel (dr Jako Olivier en dr Adri Breed) het reeds begin ten einde ʼn gladde oorgang te verseker as ek oor ʼn paar jaar die aftrede-ouderdom  bereik.

Dié projek het in 1994 begin toe besluit is om saam te werk met die Bibliografie van die Nederlandse Taal- en Letterkunde (BNTL). Die plan was om op basis van die struktuur van die BNTL ʼn ooreenstemmende struktuur vir Afrikaans te vestig, dus ʼn soort Bibliografie van die Afrikaanse Taal- en Letterkunde (BATL). Kort voor lank was dit duidelik dat Afrikaans nie dieselfde uitsette (publikasies) as Nederlands het nie en dat  ʼn eie struktuur vir Afrikaans ontwikkel sou moes word.

Aanvanklik is geoordeel dat hierdie taak verrig sou kon word deur die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein, maar dit het ongelukkig weens bepaalde redes nie so ontwikkel nie.  Daar is vervolgens besluit dat die twee afdelings, naamlik taalkunde en letterkunde, apart ontwikkel sou moes word omdat dit hoofsaaklik die deeltydse werk van bepaalde individue sou wees by gebrek aan ʼn groot instansie om die werk te verrig (wat NALN behoort te gedoen het).  Die taak vir die taalkunde is aan my opgedra en die letterkunde sou onder die beheer van prof Dorothea van Zyl van die Universiteit van Stellenbosch val. Sy sou die taak aanpak met die hulp van NALN, met die steun van personeel van die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein.

Hulp en steun van Paul Doorenbosch van die Koninklijke Biblioteek en later dr Karina van Dalen-Oskam van die Huygens Instituut onder wie se beheer die saamstel van die DBNL geval het, het gehelp om die uiteindelike struktuur van die Afrikaanse weergawe te bepaal. Die raad oor hoe om slaggate te vermy en probleme, soos outeursreg, te hanteer, was besonder waardevol. Elke besoek aan Nederland in die tydperk 2001-2010 het besoeke aan dr Van Daalen ingesluit sodat probleme wat opgeduik het, bespreek kon word en oplossings bedink kon word. Ook mev Elly Kamp het waardevolle insette gelewer.

In die loop van 2002 is die taak aangepak met die finansiële en personeelsteun van die universiteitsbiblioteek op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit.  Mettertyd is befondsingsteun verskaf deur die Fonds Neerlandistiek, wat gekoppel is aan die Universiteit van Stellenbosch. Sedertdien dra hierdie fonds ons werk aan die DBAT. Die biblioteek van die NWU op die Potchefstroomkampus verskaf steeds die infrastrukturele steun om die versameling op ʼn daaglikse basis by te werk.

Ná die verloop van bykans 10 jaar kan gerapporteer word dat die DBAT al meer as 16 000 inskrywings (optekening van boeke, artikels, verhandelings, proefskrifte , berigte) bevat, waarvan meer as 9 000 reeds in digitale formaat beskikbaar is. Elke tydskrif wat oor die Afrikaanse taalkunde gepubliseer het sedert die begin van die 20ste eeu, is deurgewerk  en inligting daaroor opgeneem in DBAT. In hierdie proses het waardevolle inligting wat voorheen in argiewe of in ouer ontoeganklike bronne versteek was, weer na vore gekom vir algemene gebruik. Sodoende is nuwe moontlikhede vir ouer materiaal ontwikkel.

Elke boek oor die Afrikaanse taalkunde word weerspieël in die versameling. Ons het nou begin om stelselmatig  ouer boeke te digitaliseer, soos ons fondse dit toelaat . Tans word die titelbladsy, inhoudsopgawe en voorwoord van jonger boeke ook gedigitaliseer – ʼn skakel (“link”) gaan na die uitgewer se webblad waar die boek aangeskaf kan word. Weens outeursreg kan talle boeke nie gedigitaliseer word nie, maar die publikasiebesonderhede van die boeke word wel opgeneem.
Die inskrywings is in kategorieë geplaas en soos die behoefte ontwikkel, word nuwe kategorieë bygevoeg. Belangstellendes kan na die DBAT se webblad gaan – http://www.nwu.ac.za/dbat - en kyk wat alles daar verkrygbaar is. Letterlik met die druk van ʼn knoppie is materiaal oor die Afrikaanse taalkunde nou beskikbaar aan enigeen in die wêreld wat toegang het tot die internet. Hierdeur word die publikasies en insigte van Afrikaanse taalkundiges en ook van persone wat elders in die wêreld (Nederland, Vlaandere, VSA, ens.) oor die Afrikaanse taalkunde publiseer, wêreldwyd toeganklik gemaak. Die gebruikspatrone toon ook dat dit reeds deeglik deur persone elders in die wêreld goed benut word.

Ons versoek dat taalkundiges in die Lae Lande of elders in die wêreld  wat artikels, ens. oor Afrikaans publiseer vir ons ʼn e-kopie van die publikasie (artikel, berig, boek) stuur sodat dit in die DBAT-versameling opgeneem kan word: carla.ubbink@nwu.ac.za  Selfs ʼn skakel na die publikasie sal voldoende wees. Die DBAT werk steeds in vennootskap met die DBNL en daarvoor is ons baie dankbaar omdat ons dan bronne  en inligting oor bronne deel.

Gaan kyk gerus na die DBAT se webblad. Dalk spoor u daar taalkundige juwele op. Vir solank het die Afrikaanse en Nederlandse taalkunde weg van mekaar af ontwikkel, maar deur die beskikbaarheid van die DBAT en die DBNL kan daar nou insigte gedeel en vennootskappe gesluit word. 
Gee gerus terugvoer aan ons as u wel die DBAT bekyk het. Ons hoor graag hoe ons dit nog beter kan maak.